| Holgate in Oos-VS |
|
|
|
|
3/11/2009 12:00:00 AM Die Maloti-Drakensbergroete is een van die eerste plekke wat deur die bekende Suid-Afrikaanse avonturier-reisiger Kingsley Holgate op sy Boundless South Africa-ekspedisie gaan besoek. Holgate en sy gesin het wêreldwyd bekend geword vir hul tog deur 33 lande waar hulle onder meer muskietnette aan die inwoners gegee het. Hierdie keer gaan Holgate die oorgrensparke besoek. Hy vertrek op 11 Mei van die Internasionale Toerisme-indaba in Durban af met ’n bietjie water van die Indiese Oseaan in sy bekende kalbas. Holgate en sy span sal hoofsaaklik met Land Rovers ry, maar sal by Boesmansnek die grens te perd oorsteek. In Lesotho sal hy ook perd ry en selfs ’n perderesies bywoon. Soos met sy vorige toere sal muskietnette uitgedeel word. Daar sal ook brille en opvoedkundige biblioteke aan landelike skole geskenk word. Mense sal geïdentifiseer word om opleiding in natuurbewaring te ontvang. Gemeenskapsdae sal gehou word waartydens sokker gespeel sal word. Laasgenoemde is om die gemeenskap bewus te maak van die Wêreldbekersokkertoernooi wat in 2010 in Suid-Afrika gehou word en om seker te maak dat Suid-Afrika nie die enigste land is wat voordeel uit hierdie toernooi trek nie. Waar nodig, sal die sokkervelde verbeter word. Die natuur, kultuur en gemeenskap gaan deur Holgate se toer wêreldwyd bekend gestel en bevorder word. ’n Verskaffer van geografiese inligtingstelsels (GPS) gaan verteenwoordigers saamstuur om die roete te karteer. Dit sal as ’n 4x4-roete oor 100 dae bekend staan. ’n Pakket bestaande uit beleggingsmoontlikhede in die volhoubare ontwikkeling en bemarking van die oorgrensparke is verlede Oktober aan moontlike beleggers tydens ’n konferensie bekend gestel. Dit is in Sandton deur die departement van omgewingsake en toerisme aangebied. Die departement het die konferensie namens die nege lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG met lidlande Angola, Botswana, Lesotho, Mosambiek, Namibië, Suid-Afrika, Swaziland, Zambië en Zimbabwe) aangebied. Me. Leonore Beukes, bemarkingsbestuurder van Boundless Southern Africa, het op die jaarvergadering van die Maloti-Drakensbergroete op Clarens gesê hierdie gebied sal ook voordeel trek uit geleenthede wat uit Holgate se besoek gaan voortspruit. Ná sy besoek aan Lesotho gaan Holgate Suid-Afrika deur die Caledons?poortgrenspos binnekom waarna hy deur Fouriesburg, Clarens en die Drakensberg gaan reis. Hierna sal hy die ander oorgrensparke en die ander SAOG-lande waarin dié parke geleë is, besoek. In elke park sal hy ’n bietjie water in sy kalbas gooi. Met hierdie toer wil hy nie net ’n nuwe roete bekend stel en gesondheid bevorder nie, maar ook die natuur, kultuur en gemeenskap aan die res van die wêreld bekend stel. Plaaslike produk?eienaars is opgewonde oor die besoek en glo toerisme in die Oos-Vrystaat sal oor die wêreld heen hierdeur bevorder word. Brosjure oor gebied beskikbaar Sedert ’n komitee vir die gebied saamgestel is, is ’n boek oor die Maloti-Drakensberggebied gepubliseer. Kennisgewingborde is in die Oos-Vrystaat, Oos-Kaap en Lesotho aangebring. In die KwaZulu-Natal-gebied moet dit nog aangebring word. Tydens die jaarvergadering wat by The Phat Chef op Clarens gehou is, is verslag gelewer oor wat alles die afgelope twee jaar bereik is. Vanjaar se hoogtepunt is beslis Kinsley Holgate se besoek aan die oorgrenspark.
Lynda Greyling http://jv.news24.com/Die_Volksblad/Maluti/0,,5-2261_2483580,00.html
|
Holgate in Oos-VS


